Heinz Mödler se nuwe boek, James Bond, Ontbloot: Die naakte waarheid agter Brittanje se beroemdste geheime agent, bied ‘n vermaaklike en toeganklike blik op die verbeeldingryke tegnologie wat in die Bond-films uitgebeeld word en ondersoek die geloofwaardigheid van die dikwels bisarre situasies waarin die held homself bevind.
Mödler het onlangs met Elmari Rautenbach gesels oor hierdie opwindende nuwe boek en verduidelik dat hy eenvoudig nie anders kon as om dit te skryf nie. “Ian Fleming was ’n man met uiteenlopende belangstellings, net soos ek. Die mediese aspekte was die sneller, maar die kombinasie daarvan met wetenskap, kos en drank én ’n romantiese stout ondertoon het dit ’n boek gemaak wat ek net móés skryf,” sê Mödler.
Vir navorsing het hy al 24 Bond-flieks gekyk en al Fleming se boeke gelees, maar nie regtig gefokus op die ander Bond-skrywers se werke nie: “Die boeke van die ander verskil baie van syne en is meestal net ’n storie wat min materiaal vir my boek opgelewer het.”
Rautenbach pols Mödler ook oor sy agtergrond as mediese spesialis, sy bevindinge in die boek en die vermenging van werklikheid en fiksie waar Bond se doen en late ter sprake is.
ER: Hoe word bewys dat Bond “ ’n pierewaaier met klas” is soos jy in ’n stadium na hom verwys?
HM: Bond maak nie net staat op sy voorkoms nie. Hy is professioneel. In Diamond Are Forever (1971) verwys hy na die jaartal van ’n solera-sjerrie. Wanneer M hom teregwys dat sjerries nie ’n jaartal het nie, sê Bond hy het met “’51, I believe” verwys na die oorspronklike oesjaar van die oudste druifsoort in die sjerrie. En dit klop!
ER: Gooi die werklikheid soms ’n interessante draai in die fiksie?
HM: Fleming was oop vir insette wat wys hy het sy eie stories werklik geniet. Soos die brief wat ’n wapendeskundige aan hom geskryf het om sy misnoeë teenoor Bond oor sy keuse van pistole uit te spreek. ’n Baretta is nie die regte kaliber vir die karakter nie, het hy geskryf, en ’n Walther PPK voorgestel. Fleming het geluister en sommer in sy boek MI6 se wapenspesialis na hom genoem: Geoffry Boothroyd. En dís wat die Bond-boeke en flieks so interessant maak. Dit is nie net fiksie nie.
Boekbesonderhede
- James Bond, Ontbloot: Die naakte waarheid agter Brittanje se beroemdste geheime agent deur Heinz Mödler
Boek se tuisblad
EAN: 9781920654559
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!